Remembering – Johannes Kerkorrel 27 March 1960 – 12 November 2002

Yesterday we remembered Ralph Rabie who died 20 years ago.

He will never be forgotten and continues to inspire a new generation of young people.

Please read the post below, provided to this website by Ariana Eybers who kindly gave permission for us to use the piece that she had written as a university essay.

Gee, gee, gee applous vir Johannes Kerkorrel se Hillbrow

Die liedjie Hillbrow het vir die eerste keer in 1989 in die album Eet Kreef! deur
Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band verskyn. In die volgende
resensie sal die politieke konteks sowel as die musiekbeweging waarin die liedjie
gepubliseer is, bespreek word. Daar sal ook gekyk word na hoe die bogenoemde
kontekste die lirieke beïnvloed het en watter teikengehoor die liedjie sal geniet.
Hierdie liedjie is eerstens vrygestel gedurende ʼn interessante tydperk van die Suid-
Afrikaanse geskiedenis. Teen die einde van die 1980s was apartheid besig om tot ʼn
einde te kom. Op dieselfde tyd het die Voëlvry musiekbeweging tot stand gekom.

Die bogenoemde politieke konteks waarin die liedjie gepubliseer is, kan nie as
onafhanklik van die musiekbeweging beskou word nie, om rede die eersgenoemde
die laasgenoemde beïnvloed het.


Verder het die Voëlvry musiekbeweging doelbewus die pilare van die konserwatiewe Afrikaner gemeenskap aangeval. Hierdie gemeenskap het voor ʼn onsekere toekoms gestaan soos wat die apartheidsregering se heerskappy tot ʼn einde gekom het (Van der Merwe 2017:121). Johannes Kerkorrel wat, volgens Koos Kombuis (2009:130), oral opgeduik het met ʼn boodskap van protes, ontevredenheid en opstand teen die status quo, se Gereformeerde Blues Band het ook aan die musiekbeweging deelgeneem. Die naam van die musiekgroep protesteer opsig self teen die Calvinistiese Nederduitse Gereformeerde Kerk wat baie invloed in die apartheidsera gehad het (Pelser s.a.). Die naam van die album waarin Hillbrow verskyn het, naamlik Eet Kreef! verwys na Marie Antoinette se bekende stelling: “Let them eat cake!” (Pelser s.a.). Die wit bevolking het in redelike gemak geleef terwyl armoede geheers het onder die swart populasie (Pelser s.a.).


Tweedens is dit betekenisvol dat Kerkorrel besluit het om juis oor Hillbrow te sing.
Die liedjie beskryf die multikulturele voorstad in Johannesburg in fyn besonderhede. Dié voorstad het homself in die laat 1980s glad nie gesteur aan die apartheidsbeleid van rasseskeiding nie en het ʼn reputasie van bevryding en verdraagsaamheid gedra (Stadler en Dugmore 2017:7).


Derdens is daar verskeie aspekte van die lirieke wat die konteks van die liedjie
ondersteun. Die einde van die eerste strofe sluit by die begin van die tweede strofe aan. Versreël 6 en 7 eindig met “en hou dan die hand / en hou oop die hand, ja,” terwyl versreël 8 begin met “en gee, gee, gee.” Hierdie selfde gedagte word herhaal in die laaste twee strofes. Versreël 9 sê “op die een wat kry wat hy vra, ja,” terwyl versreël 10 weereens begin met “en gee, gee, gee.”

Die herhaalde gedagte van vra- en-gee sluit by mekaar aan en dra by dat die liedjie tot ʼn eenheid gebind word. Hierdie eenheid dra by tot die konteks van die liedjie deurdat daar gedurende apartheid herhaaldelik gevra is vir bevryding en verdraagsaamheid. Dit is duidelik dat die aangesprokenes in die liedjie die swart gemeenskap is wat gely het onder die apartheidsregering. Dit kan gesien word in versreël 9, “jou sente, jou drome, jou klere vol gate.” Die woordkeuse van hierdie versreël is belangrik. Slegs ʼn persoon wat arm is, sal sente gee. Dit is duidelik dat die gemeenskap wat

aangespreek word, arm is, om rede hulle “klere vol gate” het. Daar vind progressie
plaas ten opsigte van hierdie versreël, want dit verander na “jou sente, jou drome,
jou toekoms vol gate” in versreël 21 en 31. Die apartheidsregering word hier gekritiseer dat hulle die toekoms van die mense in die swart gemeenskap kreupel gemaak het.


Die kern van die liedjie, naamlik die versreël “gee jou hart vir Hillbrow” word elke
keer twee keer herhaal wanneer dit gesing word. Die hart is die setel van alle
emosies. As gevolg van Hillbrow se reputasie, kan dit in hierdie liedjie gesien word
as ʼn simbool van ʼn bevryde, post-apartheid Suid-Afrika. Die aangesprokenes word dus beveel om alle hoop vir hulle “toekoms vol gate” op Hillbrow te plaas, of eerder ʼn post-apartheid Suid Afrika. Dit word beklemtoon deur die woord “gee” wat ses keer herhaal word in die refrein van die liedjie.


In die tweede laaste strofe kom die versreëls “ons sit in die son, drink wyn / ons
survive met ʼn helse lot pyn in hierdie land, ja.” Deur die gebruik van die
voornaamwoord “ons”, sluit Kerkorrel die wit gemeenskap ook by die leiding onder
die apartheidsregime in. Die swart gemeenskap lei dus nie eksklusief nie. Kerkorrel
protesteer daarmee teen die afkeur van rasse-inklusiwiteit in Suid-Afrika. Die
taalvermenging deur die gebruik van die woord “survive” eerder as die woord
“oorleef” is ook ʼn protes teen die puristiese waardes van die konserwatiewe
Afrikaner gemeenskap.


Hillbrow is ten slotte nie ʼn unieke liedjie in die sin dat dit protesteer teen apartheid
nie, maar dit is uniek in die manier hoe dit die luisteraar ontroer. Die liedjie strek,
soos die multikulturele Hillbrow, oor kulturele- en rasse grense. Dit word geniet deur die ouer generasies wat nostalgies kan terugdink na die “Chelsea Hotel” en “Hillbrow records,” maar ook die jonger generasies wat aktivisme deur die gebruik van goeie musiek waardeer. In Johannes Kerkorrel se eie woorde, “Hillbrow was ʼn besondere nommer gewees en dit het mense tog getref” (Hollander 2005).

Post navigation